Nuusbrief  19                                                                    27 Mei 2021

 

UIT DIE KANTOOR

Ons neem hierdie week met ‘n swaar hart van me. Anna-Magriet Zimmerman in die Afrikaans Departement afskeid. Seënwense vir haar en haar gesin met hul verhuising en sterkte met haar nuwe werk.

Baie geluk aan me. Valmé Strydom wat die leisels by me. Zimmerman oorneem. Ons heet ook me. Franel Coetzee as assistent in die Grondslagfase welkom. Mag beide hierdie dames baie vreugde as deel van ons Midstream-familie ervaar.

Sport en kultuur gee aan ons leerders die kans om hulself uit te leef in iets wat hulle geniet en hulle terselfdertyd ontwikkel. Te same met pret en oefening, leer hulle boonop onwetend belangrike lewenslesse, onder andere wedersydse respek, hoe om teleurstellings te verwerk en probleme op te los. Dit beveg ook depressie en angs, bevorder koördinering, kreatiwiteit, kritiese denke, aanpasbaarheid en balans by leerders. Buite-kurrikulêre programme bied fisieke, emosionele en verstandelike voordele wat elke mens benodig om ʼn gesonde en gebalanseerde lewe te handhaaf.

Meer inligting rakende skoolsport en kultuuraktiwiteite volg later in die nuusbrief.

Ons wens elke Midstream College-familie ’n geseënde week toe. Bly asseblief veilig.

 
 

SKOOLSPORT

Aktiwiteite kan vanaf Maandag 31 Mei met inagneming van die nuutste riglyne, hervat word. Nie-kontaksporte (skaak, tennis, muurbal, landloop, gholf, klubkrieket en ruitersport) kan volledig hervat word wat ook wedstryde teen ander skole insluit. Kontaksporte (rugby en netbal) mag slegs met kontaklose oefening voortgaan. Kultuuraktiwiteite, met die uitsondering van kore, kan ook voortgaan.

 
 

MY SCHOOL 

MySchool MyVillage MyPlanet het ʼn nuwe Swipe-to-Win-veldtog begin.

Dit is ʼn wen-wen situasie!
Gebruik eenvoudig u MySchool MyVillage MyPlanet of gekoppelde Woolies-kaart by enige vennootwinkel en kry die geleentheid om kontant vir u en u skool te wen. Elke swiep is ʼn inskrywing! Die kompetisie sluit 24 Junie.

Registreer hier


Indien u nog nie ’n MySchool MyVillage MyPlanet kaart het nie, kan u ook op die bostaande skakel druk en vir ’n kaart aansoek doen.

 
 

COVID-19 INFEKSIES

Indien enige gesinslid vir ‘n COVID-19-toets gaan, moet die leerders tuis bly todat die uitslae ontvang is. Wanneer ‘n gesinslid positief toets, versoek ons asseblief dat die res van die familie/leerders vir ten minste 10 dae isoleer. Kontak asseblief enige tyd die skool of u algemene praktisyn indien u onseker is of enige navrae het.  Stel die skool asseblief onverwyld in kennis indien ‘n leerder positief vir die Corona-virus toets.

Ons wil u ook net weer herinner dat indien u kind enige akute griep- of verkoue-simptome ervaar, hulle ook asseblief tuis moet bly totdat dit opgeklaar het. 

 
 

GHOLFPRESTASIES

Ryan en Lian Strauss het beide verlede maand in die Big 5 South African Open by Zebula gespeel.

Ryan het 4de in die 12-jarige ouderdomsgroep en Lian het 3de in die 10-jarige ouderdomsgroep geëindig en beide kwalifiseer vir die Red, White and Blue Invitational by Pinehurst in Amerika wat aan die begin van Julie plaasvind. Ryan is ook by die Noord-Gauteng o.13-gholfspan ingesluit. Hy is tans die nommer 3-speler in die provinsie. Hy gaan in September aan die SA Interprovinsiale gholftoernooi deelneem.

Lian is ook na die US Kids gholf-wêreldkampioenskappe uitgenooi, wat ook einde Julie by Pinehurst in Amerika gaan plaasvind. Lian is tans die nommer 2-speler vir sy ouderdomsgroep op die US Kids-ranglys in SA.

EJ Stafford het sedert verlede jaar Februarie in verskeie SA Kids en US Kids gholftoernooie deelgeneem. EJ het in April tweede in die Huddle Park-toernooi geëindig. Hy ontvang ook twee nasionale seisoen-toekennings as een van die top 5 by US Kids. Hy kwalifiseer vir die jaarlikse International Junior Africa Challenge by Sanlameer van 23 – 27 Augustus. EJ kwalifiseer boonop vir die wêreldkampioenskappe wat einde Julie in Amerika plaasvind, asook die European Championship wat in Mei 2022 in Brittanje plaasvind.

Baie geluk en sterkte aan Ryan, Lian en EJ. Ons is baie trots op julle en glo julle gaan nog groot hoogtes bereik.

 
 

TENNIS

Let wel dat daar vanaf volgende week een ekstra tennisoefening vir nie-spanspelers op Woensdae vanaf 14:00 tot 15:00, sal wees.

Tennisoefeninge vir die skool sal dus gedurende kwartaal 1 tot 4, as volg wees:

Maandae
13:30: Graad 1
14:00: o.11 – Graad 2 tot 5: Nie-spanspelers.
15:00: o.13 – Graad 6 tot 7: Nie-spanspelers.

Woensdae
14:00: o.11 en o.13 – Graad 2 tot 7: Nie-spanspelers.

Vrydae
13:30: Graad 1 14:00: o.11 – Graad 2 tot 5: Amptelike spanoefening.
15:00: o.13 – Graad 6 tot 7: Amptelike spanoefening.

Tennisoefeninge vir nie-spanspelers sal uit fiksheidsessies, balvaardighede, basiese tennistegniekontwikkeling en groepspel bestaan.

Vir individuele afrigting, kontak gerus vir Auret by admin@jlstennisacademy.com.

 
 

SNOEPIE: TUCK IN

Besoek ons gerus by die skool of aanlyn vir gesonde middagetes en kosblikopsies, asook talle ander lekkernye. Ons voorsien graag in alle verjaardagpartytjie-behoeftes ook!

Aanlyn winkel
 
 
Facebook Rss Instagram Share content


Midstream College Primary School - 1 Ashford Street, Midstream Estates, 1692
www.midstream-primary.co.za

Tel: 012 661 0590
Fax: 012 661 0643