Nuusbrief  17                                                                    13 Mei 2021

 

UIT DIE KANTOOR

Vandag vier ons Hemelvaartdag. ‘n Dag waarop ons onthou om te dien soos Hy gedien het en om lief te hê soos Hy ons elke dag lief het. Mag u God se alomteenwoordige liefde ervaar en besef dat u vir Hom uiters kosbaar is en mag die seëninge van die Here altyd oor u skyn.

 
 

WINTERSUNIFORM

Met die uitdagings wat Covid-19 steeds bied, is daar besluit om sweetpakke vir die wintermaande toe te laat.

 
 

COVID-19 INFEKSIES

Daar is landswyd ʼn stadige toename in die aantal nuwe Covid-19 infeksies en in die Midstream-omgewing is daar ook meer positiewe gevalle. Een manier om die infeksiekoers in toom te hou, is om die Covid-19-protokol streng te volg d.m.v. sosiale distansiëring, die dra van maskers en gereelde ontsmetting. Alle leerders moet elke dag ʼn gesigmasker dra wat hul neus en mond bedek. Bring asb. elke dag’n ekstra skoon gesigmasker in ʼn sakkie skool toe, vir ingeval dit benodig word.

Ons wil net weer aan ouers ‘n vriendelike versoek rig dat indien u kind enige verkoue of griepsimptome ervaar hy of sy tuis moet bly totdat hulle gesond is.

Indien u as ouer kontak gehad het met ‘n persoon wat positief getoets het vir COVID-19 en u vir ‘n COVID-19-toets gaan, moet u asseblief u kinders tuis hou totdat die uitslag bekend is. Wanneer ‘n gesinslid positief toets, versoek ons, soos voorgeskryf, dat ouers die res van die skoolgaande gesin isoleer.

 
 

GHOLF

Ryan Strauss het gekwalifiseer om Gauteng-Noord gholfunie op 23 Mei by ‘n toernooi te Kyalami Country Club, te verteenwoordig. Ryan, baie geluk en sterkte vir jou.

 
 

TENNIS

Ons o.11-spanne het vanaf 4 tot 8 Mei aan die landswye Inter-Afrika Truida Kestell Laerskole Tennistoernooi deelgeneem.

Die meisiespan eindig 3de uit 15 spanne en verower ook die spangeestrofee.
Die seunspan eindig 7de uit 17 spanne.

Ons o.13-spanne het vanaf 8 tot 9 Mei aan die Gauteng-Noord uitdunne van die landswye BNP Paribas Rising Star Skoletennistoernooi deelgeneem.

Die eerstespanseuns eindig 1ste en dring na die provinsiale uitdunrondte, wat op 5 en 6 Junie plaasvind, deur.
Die eerstemeisiespan eindig 2de en dring na die provinsiale uitdunrondte, wat op 5 en 6 Junie plaasvind, deur.
Die tweedespanseuns eindig 7de uit 32 spanne – ‘n uitstekende prestasie!

Baie geluk aan al hierdie entoesiastiese en talentvolle tennisspelers!

 
 

CLOTHES TO GOOD… AND TREES

Ons is baie opgewonde oor hierdie kwartaal se uitreikprojek! Ons gaan saam met die hoërskool aan die internasionale Clothes to Good-aksie deelneem. Dit is skrikwekkend om te besef dat 85% van tekstiele elke jaar op rommelhope opeindig en dat 500 000 ton mikrovesels jaarliks in die oseaan ingestort word, wanneer ons ons klere was. Dit is tyd vir ons om te herwin! Hierdie projek sal vir jou ‘n goue geleentheid gee om seker te maak jou ou klere word herbruik.

HOE WERK DIT?
1. Elke kind het Maandag ‘n groen plastieksak ontvang.
2. Vul dié sak met ou, SKOON klere, skoene of materiaal (bv. vadoeke, lappe).
3. Skenk jou sak hier by die skool.

Die klere sal gesorteer en op verskeie maniere herbruik word. Klere wat dienlik is om weer gedra te word, sal gebruik word om werksgeleenthede vir 108 mikrobesighede te skep. Klere wat nie meer gedra kan word nie, word kreatief gebruik om nuwe dinge te skep, soos drasakke, poppe en opvoedkundige speelgoed. Niks word weggegooi nie; elke laaste deeltjie word weer gebruik.

Clothes to Good gaan spekbome aan die skool skenk om dankie te sê en daarom sal die projek as die Clothes to Trees-projek bekend staan.

Kyk asseblief die video of besoek die webblad vir verdere inligting.

Die kinders sal hulle sakke Maandagoggend ontvang. Kom ons gebruik die naweek om bietjie daardie kaste uit te sorteer en dan stuur ons volgende week al die ou klere op nuwe avonture!

Video Webwerf
 
 

RUITERKUNSUITSLAE

Baie geluk aan ons Midstream ruiterkunsspan wat Saterdag 8 en Sondag 9 Mei aan die kwalifiserende rondte 2 in die reën en son op Kyalami Equestrian Park deelgeneem het. Ons is baie trots op al ons ruiters.

Uitslae
 
 

SNOEPIE: TUCK IN

Besoek ons gerus by die skool of aanlyn vir gesonde middagetes en kosblikopsies, asook talle ander lekkernye. Ons voorsien graag in alle verjaardagpartytjie-behoeftes ook!

Aanlyn winkel
 
 
Facebook Rss Instagram Share content


Midstream College Primary School - 1 Ashford Street, Midstream Estates, 1692
www.midstream-primary.co.za

Tel: 012 661 0590
Fax: 012 661 0643