UIT DIE KANTOOR
Met die terugkeer van al hoe meer sport- en kultuurgeleenthede, voel dinge op die skoolterrein amper weer soos voor die pandemie. Daar is ‘n nuwe energie in die lug en die kinders se entoesiasme is aansteeklik! Die kultuurgroepe oefen met hernude toewyding en ek is dankbaar vir elke geleentheid wat dié kinders aangryp. Ons het ook die afgelope Dinsdag ons eerste netbalwedstryde gehad. Dit het my hart verbly om die meisies se opgewondenheid en vreugde saam met hulle te ervaar. Ek sien uit na volgende week wanneer die rugbywedstryde ook weer begin.Die tennis neem natuurlik reeds aan verskeie toernooie deel en hou ons naam hoog van Gauteng tot in die Vrystaat. Op 8 en 9 Mei sal ons ruiterkunsspan weer hul staal tydens die tweede kwalifiseerder wys. Baie sterkte aan al ons seuns en dogters wat aan aktiwiteite deelneem. Geniet elke oomblik en gee jou beste. Ons besef dat dit vir u as ouer moeilik is om nie die wedstryde by te woon nie, die direktiewe is egter baie duidelik ten opsigte daarvan dat geen toeskouers toegelaat word nie.
Ons wil graag al die graad 7-leerders gelukwens met hul toewyding en harde werk, binne en buite die klaskamer. Ons waardeer elke graad 7-leerder en stel elkeen hoog op prys. Die afgelope Maandag het ons ʼn groep kinders as leiers aangekondig wat meer pligte sal hê. Baie geluk aan hierdie kinders! Ek moedig al die graad 7’s aan om met hul spanwerk vol te hou en die toewyding wat hulle tot dusver getoon het, voort te sit.
Ek deel graag die volgende veelseggende gesegde met u: “I love that this morning’s sunrise does not define itself by last night’s sunset.” – Steve Maraboli
Ons wil net weer aan ouers ‘n vriendelike versoek rig dat indien u kind enige verkoue of griepsimptome ervaar hy of sy tuis moet bly totdat hulle gesond is. Indien u as ouer kontak gehad het met ‘n persoon wat positief getoets het vir COVID-19 en u vir ‘n COVID-19-toets gaan, moet u asseblief u kinders tuis hou totdat die uitslag bekend is.
|